Winteroggende

2019-04-08T16:00:50+02:00

Dis winter en dis nog donker as ons wakker gemaak word en die dag begin. My liefste kinders moet onnatuurlik vroeg uit die vere gelig word en is dan nog die ene verwardheid maar gelukkig tog vol aanvaarding..

Wat is jou oggendroetine om deur hierdie winter te kom sonder te veel konsternasie?

Ons maak mekaar maar sag en met baie liefde wakker. Toegevou in komberse eet ons ontbyt en help mekaar aantrek, laag vir laag. Teen die tyd dat kosblikke en tassies gepak is,  gaan ons met ‘n lag in die hart (nie altyd nie) by die deur uit, opgewonde om die dag met maatjies te deel en hopelik iets wyser te word.

Die koue van ons  winter herinner my om te rus. Om dalk my pas aan te pas en sag te werk met myself en almal om my. Dis net natuurlik om te wil hiberneer, stil te raak en binnetoe te kyk.. Om met dieselfde grasie as bome te rus en ons blare af te gooi en ons kragte te spaar. Die somer kom tog weer. Die ys op die windskerm en op die grond maak my ekstra beskermend en herinner my om ekstra lae room aan te smeer en versigtiger te loop sodat ek nie gly nie. Daar is soveel metafore in die seisoene waarmee ons saamleef en dalk is dit die moeite werd om hieraan erkenning te gee en aan te pas by ‘n nuwe ritme.

Snotneuse en ‘n donker gemoed loop ook saam met die winter, want al wil my hele wese net rus en binne bly is die eise van werk en openbare optredes steeds daar.

Gewaarwording en ekstra omgee vir onsself en vir mekaar gedurende hierdie tyd, is my wens vir ons almal.

 

Sterkte!  ….die Solstilstand bring ons by die halfpad-merk.

Die hoop beskaam nie…

Nou word die dae hopelik net langer en uiteindelik ligter en warmer ook.

 

 

WhatsApp chat