S_E_X_Y

2019-07-24T09:37:08+02:00

S E X Y
Deur:  Juanli Theron

Eendag lank, lank gelede was daar ‘n meisie met ‘n plat magie en ‘n glinster in haar oë wat elke oggend uitgerus wakker geword het en blink planne kon maak vir haar sosiale kalender soos dit haar bui pas. Sy was vry en vrolik en aansienlik gemakliker in bikini’s. Sy’t verlief geword op ‘n “tall dark and handsome” mansmens met breë skouers en sexy arms toe hulle nog albei jonk gelyk én gevoel het en sy nog net kon wonder oor die tipe mense wat hulle twee saam eendag sou word.  ‘n Paar jaar later het die meisie ‘n ma geword en haar man, tot haar groot verligting, die tipe pa waarvoor sy in haar jonger dae nie eers kon dink om oor te droom nie. Want wie sou kon raai hoeveel gróótword dit van twee ouers sou verg om saam-saam te kan kinders grootmaak?

Hulle’s deesdae ouer, effens gryser, moeër en armer, dis waar – niks sosiaal gebeur meer sonder aanhangsels of onderhandelings met oppassers nie. Sy moes maar haar vryheid in ‘n mate vaarwel wuif, en daarmee saam alle spontaneïteit inruil vir struktuur, roetine en Mince Mate. Daar’s immers Kinders en Verantwoordelikhede om op te fokus.  Maar wanneer sy soms wonder wat van haar vorige lewe geword het, en die Maandagoggendmoedeloosheid haar tref, het sy gelukkig deesdae ook ‘n nuwe normaal om voor dankbaar te wees. Want die arms wat haar nog altyd so styf kon vashou word nou ingespan om haar baba’s met sagte krag en deernis te wieg. Die sin vir humor wat haar so lekker kon laat giggel laat nou haar kleuters se ogies van vreugde vonkel elke dag. En daai hart wat hare so vasgevang het, met die liefde wat haar aan die heel begin betower het, is nou vermenigvuldig met elke kind wat haar man Pappa kan noem.

Sexy het ‘n nuwe definisie gekry. Dit sal nooit weer eendimensioneel kan wees nie. Soos haar lyf en haar vel en haar hart met die tyd saam moes verander, het haar bewondering vir haar mansmens ook saam met sy vaderskap gegroei. Toe die meisie ‘n ma word, het sy ‘n man aan haar sy gehad om ‘n pappa te word. En hóm verruil sy vir niks nie.

xxx

© Die Naguilklub

 

WhatsApp chat