Nou ‘n Graad 1 Mamma

2019-04-08T15:46:35+02:00

Dit voel of ek soos ‘Alice in Wonderland’ weer deur ‘n deur geloop het in ‘n vreemde nuwe wereld in, met nuwe vereistes.

My feetjie-kind, wat my in my drome leer vlieg het is laas week Gr1 toe. Vir ons almal is dit soos ‘n groot ontwaking. As ek nie voorheen besef het hoe belangrik roetine en struktuur is nie, mag ek dit nou nie vir ‘n oomblik vergeet nie.

Almal moet nou skielik met ‘n alarm wakker word. En of jy honger is of nie, geeet moet daar, want op ‘n honger maag is leer en konsentreer moeilik. Uniforms, kosblikke, tasse pak. Boeke oortrek en soos ek aangaan, hoop en bid ek om dit uiteindelik beter te kan doen. Soos ek my kind die heeltyd deur “learning curves” moet aanspoor, so voel ek skielik in ‘n baie groot kurwe wat my as mens baie gooi.

My eie Gr1 ervaring as kind was baie goor. Goor juffrou wat soos ‘n heks opgetree en gelyk het en my skool loopbaan vreesaanjaend gemaak het. So is ek hiper bewus van hoe my kind die nuwe omstandighede en struktuur en juffrou ervaar.

Hoe weet mens dan? Hoe kry mens jou kind om openlik en duidelik te kommunikeer? Ek het al geleer om meer spesifieke vragies te vra wat help.

Voorbeelde:

  • Wat vandag was regtig lekker en wat was sleg of moeilik?
  • Met wie het julle gespeel?

So paar ja en nee vragies om hulle op te warm en konteks te gee van hulle dag, want kinders weet wonderlik hoe in die oomblik te lewe en gou te vergeet as dit nie in die oomblik verband het nie.

En die ander waardevolle ding wat ek geleer het is om dit nie direk in hulle gesigte te vra nie, maar eerder soos ons almal sit en teken of blokkies bou. Of as ons gesels in die donker na storie tyd en voor slaap tyd. Soos ons bestuur en hulle nie my gesigs uitdrukkings hoef te beleef en my ervaring of gevoelens in ag te neem nie is nog ‘n waardevolle tyd. Oomblikke waar dit sommer net gesels is, sonder enige verwagtinge.

Die ander mantra in my kop is “Een dag op ‘n slag” …. 12 jaar is lank in my kop. So nee…EEN dag op ‘n slag.

Dis ‘n unieke ervaring. Dis ‘n herontdekking van skool en hoe lekker dit dalk kan wees. Dis opwindend om my kind te sien groei en leer lees en deelneem op ‘n volwasse en selfstandige manier. My hart is vol vir die onderwysers wat met passie en liefde voor ons kinders staan en vir die geleentheid vir die wereld om ons unieke kind te ontmoet en te ervaar.

Mag die boksies van reels en uniforms haar veilig maak en haar nie onderdruk nie.

Deel asb jou ervaring van Gr1. Enige raad en voorstelle is welkom en nodig:)

Nog vra wat ek geniet om te vra om hulle dae en denke te verstaan:

  1. Wie was vandag gaaf en vriendelik, het enige iemand ‘n bietjie liefde nodig gehad vandag?
  2. Was enige iemand naar met jou of iemand en toe wat doen jy?
  3. Het almal ‘n maatjie om mee te speel?
  4. Het enige iemand jou laat lag? Het iets snaaks gebeur?
  5. Was enige iemand hartseer of siek? En toe wat doen jy?
  6. Het julle bietjie kuns kon doen, watse medium is vir jou die lekkerste?
  7. Wat het julle gespeel gedurende pouse? En met wie het jy gespeel?
  8. Was enige iemand afwesig vandag?
  9. Het jy enige iemand gehelp vandag?
  10. Wat het jy geeet vandag?
  11. Het almal darem iets gehad om te eet?
  12. Was daar iets wat jy nie verstaan het nie?
  13. Kon jy vandag vir Juffrou vrae vra?
  14. Het jy ooit onveilig gevoel, was jy enigsins bang vandag?
  15. Wat weet jy nou wat jy gister nie geweet het nie?
  16. Hoe was jou dag op ‘n skaal van 1-10?
  17. Was einge iemand in die moeilikheid vandag?
  18. Twee van jou gunsteling tye vandag, voor ons opstaan van die tafel af?:)
  19. Waarna sien jy uit vir more?
  20. Wat lees ons vanaand?
  21. Wat was die moeilikste reel om te volg vandag?
  22. As jy enige iets van vandag kan verander, wat sal dit wees?
  23. Met wie het jy jou snacks gedeel vandag?
  24. Watse nuwe woorde het jy geleer vandag?
  25. As jy sitplekke kon ruil met enige iemand, met wie sou jy ruil? En hoekom?
  26. Wat is jou gunsteling deel van die skool terrein/gebou/speelgrond en watse deel is nie?
  27. Hoe het jou juffrou se stem geklink vandag? Het iets haar laat lag of het iets haar kwaad gemaak?
  28. Wat het jou gelukkig gemaak vandag?
  29. Wat het jou laat trots voel vandag?
  30. Weet jy hoe lief is ek vir jou??
WhatsApp chat