My Lyf

2019-07-24T09:31:53+02:00

M Y L Y F, H A A R S P I E Ë L
Deur: Suzanne Smit

Ek is ’n Mamma van twee dogtertjies – twee prinsesse, elkeen uniek en volmaak. Persoonlikhede in eie reg met die een wat die ander gedurig terg en die ander een ’n moedertjie wat altyd die juffrou wil wees en ander wil leer. Soos wat hulle groter word, dink ek al hoe meer aan die invloed van sosiale media en die wêreld se standaarde van hoe ons moet lyk teenoor ’n gesonde verhouding met my lyf. Selfwaarde vir millennial teens & tweens word vandag op Instagram en ander platforms bepaal met die hoeveelheid likes en comments van ’n spesifieke post. Maar voordat hulle nog die internet begín gebruik, weet ek dat hulle eerste blootstelling aan die konsep van selfwaarde direk van my af kom – my voorbeeld.

Wat sien hulle as hulle na my kyk? Wat leer dit hulle oor wat húlle waarde is? Voel ek steeds waardig wanneer ek alleen in my binnekamer staan sonder ‘n virtuele skare wat my aanmoedig, sodat hulle ook eendag daarsonder kan floreer? Ek wonder gereeld oor wat vir Klaradyn en Nina-Maria eendag wag. Is daar iets wat ek kan doen (behalwe om te bid)?

***

Het jy al ooit so na ’n sjokolade gesmag dat jy wraggies 02:00 in die oggend in jou kar sal klim en na die naaste vulstasie sal ry om daardie lus te stil? Of jy loop verby ’n “fast food outlet” en kan net nie daardie regte-egte “garage pie”
weerstaan nie? Ek was al in soveel soortgelyke situasies. My weerstand verkrummel veral as dit by soetgoed kom: jelly beans, nagereg (pavlova is ’n gunsteling!), roomys … Die lys is eindeloos! Een aspek wat ek as ’n Mamma (en voorbeeld vir ons dogtertjies) wel op fokus, is taalgebruik wanneer dit by kos en ons liggame kom. So met die nuwejaarsvoorneme op hande, is suiker taboe gedurende die week in die Smit-huishouding. Nie omdat dit “vet” maak nie, maar omdat dit ons net “vol” maak. Dit maak ons nie “gesond en sterk” soos groente, vrugte en kos in die algemeen nie.

***

Een van my en Wynand se ongeskrewe doelwitte is om kinders groot te maak wat nie van hulle kinderjare moet herstel nie. Dit is ’n enorme taak, want “we are bound to fail”: Indien nie daagliks nie, ten minste een keer ’n week. Ons is nie perfek nie, en wat is perfekte ouerskap in elk geval? Kan iemand dit definieer, of meer nog, regkry? Ouerskap is dan ’n eindelose ken-mekaar-sessie van dag 1 af …

As ek een ding by Klaradyn en Nina-Maria kan tuisbring, is dit dat hulle elke dag die geleentheid en keuse het om hulle liggame aan te wend vir hulle voorafbepaalde doel op aarde. Maar ek gaan slegs suksesvol wees as ek dit as voorbeeld doen. Ons het mos nou al geleer dat “doen wat ek SÊ jy moet doen” geen krag het nie!

So, wat beteken dit prakties?
1. Kweek gesonde eetgewoontes en drink genoeg water – al verg dit nogal effort en beplanning (meer hieroor later die week met oulike resepte en tips);
2. Hoe ek met en van myself praat, is die dialoog wat my dogtertjies oor hulself aanleer. (Hier moet ’n mens fokus!);
3. Hoe ons met mekaar praat wanneer ons oor lywe praat, maak saak;

4. Dit is belangrik om tyd te maak, al is dit net 10 minute van 24 uur ’n dag, om die wereld vir ’n oomblik uit te sluit en te ontspan, in stilte. (Waar moontlik – ons is immers ouers … ) Dit beteken NIE dat ek ewe skielik in ’n nr. 8 of 10 jean gaan pas óf dit van myself verwag nie. Dit beteken ook dat ek elke nou en dan ’n lekker sjokolade of pakkie lekkers met
oorgawe gaan geniet. Maar wanneer ek by die beginsels bly (let wel, selfs dit is nie altyd 100% on point nie!) is my liggaam en siel gevoed om weer terug te kan gee vir my gesin. Dit beteken ek heg waarde aan myself om uiteindelik dit te kan terugploeg in ons dogtertjies. You have to nourish to flourish!

Ek kan nie bepaal wat ons dogtertjies se jeangroottes gaan wees nie, maar ek kan wel beïnvloed hoe hulle oor hulself (gaan) dink en in hul jeans gaan voel. Jy was IEMAND voor jy ’n Mamma was. Onthou haar, want sy maak saak. Sy is die spieël waarin jou kinders vir hulself kyk.

(PS – Hierdie post is vanuit die ervaring van ‘n dogtertjie-Mamma, maar is van toepassing op
seuntjies ook ��)

© Die Naguilklub

 

WhatsApp chat