My 10 gunsteling remedies vir die laaste trimester

2019-04-08T15:39:50+02:00

My eerste swangerskap was net so wonderlik soos die huidige tweede een, maar met een groot verskil: Ek was lieflik onbewus van wat voorlê en hoe om mooi na myself te kyk gedurende die laaste trimester, en veral die laaste paar weke. Ek het tans 31 daggies oor tot ons voorspelde geboorte datum en daar is verseker ‘n hele paar dinge wat ek nou moet begin toepas om die lewe vir myself makliker te maak nou, en na die kraam.

Met hierdie spesifieke geboorte het ek lank nagedink oor my geboorte opsies (onthou, ons woon in Europa, so hulp, familie en vriende is baie skaars.) en tot my eie verbasing het ek besef dat dit tóg vir my die beste gaan wees om natuurlik te kraam. My eerste swangerskap het ek ‘n wonderlike ervaring gehad met ‘n keisersnit en dit was perfek vir my situasie in Suid-Afrika, waar ek rustig kon herstel na die tyd. Maar hierdie keer het ek ‘n voller lewe en ‘n pragtige 3 jarige seuntjie wat rondgery en opgetel moet word, so die keisersnit is hierdie keer nie my eerste opsie nie. Ek moet kan raakvat en beweeg na die na die tyd! Die enigste ding is: Hierdie boeta in my maag is baie groot! So ek hoop vir die beste en het vrede dat dinge sal uitdraai soos dit moet. As ek so kyk lyk my heupe darem lekker wyd genoeg vir ‘n normale kraam 🙂

Die sleutel tot die laaste paar weke is om regtig jou lyf te KEN, en ook te LUISTER. Ek weet nou al, in die laaste paar weke raak ek vreeslik honger en as ek nie versigtig is nie, tel ek VINNIG onnodige gewig op. (Ek weet daar is 2% van mammas wat nie hierdie probleem het nie, maar vir die res van ons is hierdie ongelukkig die realiteit.) So vir die onthalwe van minder rekmerke en minder sukkel om gewig af te skud na die geboorte, is ek op my hoede oor wat ek eet. Koolhidrate is soos petrol vir ‘n swangerskap, en maak jou én baba lekker groot! Dit is natuurlik nodig in moderasie, maar daai ekstra paar pannekoeke, sjokolade en brood is nou nie nodig nie. Tot vrugte – net 3 porsies vrugte per dag is genoeg. Meer as dit is onnodige suikers. (As ek my sin kon kry sou ek 10 vrugte ‘n dag eet!).

As jy jouself ook in daardie situasie bevind is my raad dus so: Verwyder maar al die hoë-koolhidraat kosse wat jou aanlok, as jy kan, en maak jou yskas vol met vars baba worteltjies, komkommertjies, gesonde kaas brokkies, biltong, gesonde jogurt (wanneer jy lus is vir ‘n poeding gereg) ensovoorts. Dit help om gesonder opsies byderhand te hê wat dit maklik maak vir jou om beter keuses uit te oefen. En meer as dit, jy voed baba met gesonde minerale en vitamienes in plaas van net baie koolhidrate.

Onthou dit is heeltemal normal om yslik groot te voel in daardie laaste maand! Net die hoeveelheid bloed en water wat ons rond dra is alreeds ‘n hewige gewig! So kyk mooier na jouself. Luister na jouself. Wees sag met jouself, en maak seker almal om jou is ook sag op jou. As jy alreeds ‘n mamma is weet jy hoe moeilik hierdie voorstel is, maar dis so belangrik om toe te pas. Daar is ‘n besige tyd wat wag, so gee jouself permissie om dit stadiger te vat nou. Vryf room waar jy voel dis nodig, laat iemand jou skoene vir jou aantrek, sit en lê wanneer jou lyf jou smeek.

 

 

My gunsteling dinge om te doen tydens hierdie tyd, wat my baie help, is soos volg:

 

1.  ONDERSTEUN DAAI MAGIE:

Ek het ‘n ‘belly support band’ gekoop wat my help om die swaar babamagie te stut en op te lig, wat ook die druk van my rug af vat.

 

2)  ENGESLE SOUT BAD:

My bederf aan die einde van ‘n lang dag is om Engelse-sout (Epsom salts) in die bad te gooi –dit is maar net uitstekend en voel asof dit al die pyne en skete uittrek! Dan slaap ek ook sommer beter..

 

3)  KRY BETER SLAAP:

Ek is bietjie ongemaklik tydens slaap tyd, so na my bad en voor slaaptyd is ‘n koppie rooibos tee met heuning ‘n lekker manier om af te skakel. En dan die belangrikste: MY KUSSINGS! Daar is so baie swangerskap kussings om te koop, en ek het nou al alles probeer, en my opinie is dus so: Ek slaap op my beste op my sy met een gewone (dun, nie te dik) kussing, langwerpig onder die maag en heup vir ondersteuning (anders trek die gewig van jou maag afwaarts en veroorsaak heup en rugpyn). Tussen my knieë plaas ek ook dan ‘n klein kussing (sommer een van die klein décor kussings in die sitkamer) om te help om my heupe te ondersteun. Hierdie twee klein veranderinge werk soos ‘n bom!

 

4)  VERMY TE VEEL SUIKERS:

Ek word baaaaie honger in die laaste trimester, so om dinge vir myself makliker te maak na die geboorte, en om beter te voel, is dit ‘n prioriteit dat ek my koolhidraat-‘cravings’ vervang met beter keuses soos wortels, jogurt, en tot rou blomkool is ook baie lekker! En as ek regtig moet dan is ‘n Marie beskuitjie so lekker saam met rooibos tee.

 

5)  RED DAAI VEL:

My maag raak baie groot so ek smeer nou omtrent 5 keer ‘n dag my ‘magic mix’ aan: Dermastine room eerste, en wanneer dit ingetrek het, smeer ek Happy Event en/of Tissue Olie bo-oor om die vel gevoed te hou.

 

6)  HARDLYWIGHEID:

Durf ek praat oor toilet gewoontes? As jy voel jy raak agter en verstop (so normaal en gebeur met amper almal!) is die twee beste ‘remedies’ vir so ‘n geval, 1) Movicol poeier (meng in water en drink) en/of 2) Glycerine setpille. Natuurlik is elke persoon anders, so loer in met jou dokter om seker te maak jy mag so maak. Die laaste ding wat ons nodig het is om nog ekstra onnodige gewig rond te dra!

 

7)  SWELLING:

As jy sukkel met swelling in jou kuite en enkels, is ‘n eenvoudige oplossing om knieg-hoogte kompressie kouse of kompressie-sykouse te dra. Die drukking wat die produkte bied help om die sirkulasie gesond te hou dat vog nie opbou in jou voete en enkels nie. Beweeg genoeg, en sit gerus nou en dan jou voete op ‘n voetstoel. En natuurlik kan manlief elke nou en dan gevra word om daai voete en enkels opwaarts te masseer 😉

8)  LIGTE OEFENING:

Alhoewel die laaste trimester ‘n tyd is van afskaling, is dit tog belangrik vir jou lyf om aan te hou beweeg, al is dit nie teen die intensiteit van oefening waaraan jy gewoond is nie. Vervang jou draf met ‘n stap, hou aan om jou biceps te oefen met dumbbells, geniet ‘n gemaklike squat en aktiveer gerus nog daai abdominale area deur met jou spier kontraksies jou baba te ‘squeeze’. Alhoewel, gedurende daardie laaste maand, wees delikaat met jouself. Oppas vir ‘twisting’ bewegings, hou jou oefeninge lig en eenvoudig.

 

 

9)  TEE VIR KRAAM-TYD:

My vriendin hier in Frankryk het my voorgestel aan ‘n baie effektiewe remedie om jou liggaam te begin regmaak vir natuurlike geboorte. Dit voel vir my amper asof dit ‘n Europese geheim is!… FRAMBOOSBLAAR TEE! Vanaf 36 weke, begin vrouens die framboos tee drink om hul baarmoeder spiere voor te berei vir die bevalling. Blykbaar word dit al regdeur geskiedenis gebruik, weens die tee se eienskappe om uterus en pelvis spiere te verstek vir geboorte, terwyl dit ook as ‘n onstpannings-middel dien, en help met die pyn tydens kontraksies. Klink vir my na ‘n wonderlike hulpbron en ek begin hierdie week met my tee-drinkery 🙂

 

10)  BRA-VERGROTERS:

Laaste, maar verseker nie die minste nie, raak als deesdae vir my ongemaklik, alles sit te styf, my maagvel is so sensitief (en al seker dun gestrek) en my onderklere voel stywer by die dag. Maar voor dat jy nuwe bra’s gaan koop, prober veel eerder ‘n ‘bra strap extender’! Dis ‘n klein ekstensie wat jy op die hakkie van jou bra heg om net die omtrek te vergroot, en meer spasie te maak vir daai ribbes! Ek kan nie sonder myne gaan nie!

 

 

Kom ons geniet ons laaste paar weke, ek weet ek gaan die bondeltjie hier onder my hart so mis wanneer hy eers uit is! Ek koester dit so baie en maak alreeds my hart reg dat ek hom een van die dae met almal om my moet deel. Maar vir nou, is hy net myne.

 

Groete en liefde!

Janine

WhatsApp chat