Laaste van die groot eerstes

2019-04-08T15:21:00+02:00

Ons is al so rukkie op vakansie in Natal.  Ek,  die kinders en my ma.  Kurt het al 2 keer deurgekom tussendeur sy vertonings, hierdie is maar ń besige tyd van die jaar, en soos met enige beroep is ons dankbaar vir die werk.   Dit kom wel soms teen ń prys (sien hom min), maar ons kla nie!

Dit is vir my ń absolute voorreg om my kinders te sien speel en baljaar op dieselfde strand, in dieselfde swembad en in dieselfde huis as waar ek kleintyd vakansie gehou het, dis my ouers se plek in Natal al vandat ek so 8 jaar oud was.

Hier het ons seuntjie so paar dae terug sy eerste tree gegee én dit in die tydperk wat hulle pappa hier was, hoe spesiaal dat ons dit saam kon beleef?! Ons het later die dag in die kar geklim en skielik tref dit my, dit was waarskynlik sy LAASTE van die groot EERSTES as baba???  Eerste glimlag, eerste tandjie, eerste woord, eerste vaste kossies, eerste kruip en dan eerste loop. Ek dink mens besef baie goed hoe spesiaal die eerstes is, maar sien ons die laastes raak? Maak ons ń punt daarvan om daai oomblik in te drink?  Aan die ander kant besef mens soms nie eers dat dit die laaste keer was nie…

Ek onthou hoe ek Kyrah altyd aan die slaap moes sus, en ek het Old Mac Donald vir haar gesing dat dit by my ore uitkom totdat sy slapies, tog het ek nooit besef wanneer ek dit die laaste keer gedoen het nie, sy het ook altyd as baba daarvan gehou om op my bors te lê en slaap en dan wou ek nie ń vinger roer nie want dit was die lekkerste lekker, tog onthou ek nie wanneer sy dit die laaste keer gedoen het nie….sy is nou op ń ouderdom waar sy vir baie dinge sê “ek wil dit self doen”, en so goed as wat ek besef sy moet selfstandig wees, en dis die natuurlike verloop van dinge, pyn my hart om te dink daardie dag gaan kom wanneer ek haar haartjies vir die laaste keer self gaan was, waneer ek haar self vir die laaste keer aantrek of langs haar moet lê om aan die slaap te raak voordat sy werklik alles self kan doen.

Moet nie die tyd verby wens nie, moet hulle nie groot wens nie…  Besef watse ongelooflike rol jy mee toevertrou word en doen dit met ń gelukkige hart, of dit nou borsvoed/bottelvoed is, doeke omruil, badtyd, slaaptyd roetines, vroeëe oggende, laat aande of min slaap… doen alles met ń gelukkige hart, want kort voor lank is daar ń LAASTE keer vir dit alles.

 

Al my liefde,
Kyrah & Kade se mamma – Dunay

xoxoxoxox

 

Sav

Save

WhatsApp chat