Graad 1 Nogsteeds

2019-04-08T15:52:48+02:00

Dis nie grappies nie. My maag draai en my kop raas van al die roetine. Nou ja ek weet ons is almal anders, party floreer met roetine en my eerste kind, wat nou Gr1 is het my nog altyd geforseer om ‘n roetine te bewerkstellig, want vir my is dit nie natuurlik nie. Ek hoef nooit ‘n horlosie te gedra het toe sy baba was nie. Sy het klokslag haar slapies gaan vang en etenstyd was ook so. Ek het haar interne klok gevolg en ek
het uiteindelik net daarby gehou, want die waarde daarvan was duidelik.

Maar…

nou moet ons skielik hierdie eksterne klok en roetine volg. Dis bietjie dodelik ek kan nie daaroor jok nie. Ons vat hom nou maar vas as ‘n uitdaging en iets wat ons moet bemeester. Dis net nog ‘n fase. Asb se dis net nog ‘n fase?:)

My kop spin teen die tyd wat sy by die deur uit is met ‘n: “geniet jou dag mamma” En ek wat se ek is lief vir haar en dink sy is amazing. Diep asem en dan hoop ek net met die optel gaan sy kan se dit was ‘n goeie dag.

Eintlik weet ek dis net ‘n fase, want laas termyn moes ons sit by die hek saam met haar tot die klok lui, sy was skrikerig en bang vir al die onbekende, en nou wil sy al vroeg by die skool wees om haar pelle te kry en op die groot veld te gaan rond hardloop, sy klim by die kar uit nog voor ek behoorlik gestop kan kry, sy is selfversekerd en alwetend. En so word hulle groot en elke leer-kurwe gebeur en voel soos die einde van die wereld tot ons hom bemeester.

Soos ek gisteraand vir haar so onderlangs probeer se, sy is my leermeester. En al wat ek verseker weet van ons ervaring hier as mense, is dat ons als van vooraf moet leer… rol, sit, kruip, eet, loop, klim, swem, praat en dit hou nooit op nie. Niks is net van self sprekend nie. Als het oefening nodig. Talent is daar dalk om een ding vinniger as die ander te leer. Maar net oefening bring bemeestering.

En so “pep-talk” ek ook myself as ma…gereeld.

 

WhatsApp chat