#GeenFilter

2019-04-08T15:41:15+02:00

Het jy al ooit na iemand anders se perfekte gesinsfoto’s gekyk en gewonder hoe de helmet die wonderwerk gebeur het dat ál die lede van die familie – babas inkluis – almal op een slag vir die fotograaf gekyk het? En dan nog boonop skoon / “colour coded” en vriendelik ook kon lyk! What kind of sorcery is this?

Ten spyte van ons heel beste pogings, was dit ons gesin nog nie beskore nie. Hier’s een van ons bestes so ver:

 

 

Nice, né?

Ons lewe in ‘n visuele wereld. Ons herinneringe word deesdae gekoppel aan die beelde wat ons –  in die oomblik – met die aardbol deel. Verby is die dae toe iemand eers jou vertroue moes wen oor ‘n koppie tee of tien voordat jy jou foto-albums voor haar sou oopslaan – deesdae kan jy iemand se hele lewensverhaal in volkleur op facebook sien voordat jy ooit die eerste Rooibos saam met haar genuttig het. En dit is nie noodwendig ‘n slegte ding nie!

Waar ons in die verlede vir lank nie verby die oppervlakkighede in die albums sou kon kom nie, het platforms soos facebook en Instagram vir ons ‘n nuwe mededeelsaamheid gebring. Vandag kan ons álles wys, onderrok en al, en ek dink persoonlik dat dit goed is. Maar dan moet ons dit eerlik doen.

Ons was al almal bevoorregd om ‘n oomblik van pure liefde en lekkerte met ons geliefdes te ervaar: ‘n Glimlag wat tot in jou siel kyk, ‘n baba wat uiteindelik soet en salig snork na ses ure se gestoei, of ‘n wederhelfte wat die perfekte bos Proteas huis toe gebring het, sommer-maar-net … As ‘n mens daardie oomblikke vir sosiale media kan vasvang, is dit goud werd. (Letterlik, in die geval van die meer Bekende tipe bekendes wat daarvan ‘n besigheid maak.) Maar goeie goed is skaars, en sulke gelukkies tref ‘n mens nie elke dag nie.

Ons word daagliks gebombardeer met prentjies wat veronderstel is om ons na volmaaktheid te laat streef, gepoets en gefilter tot dit blink. Dit is immers die beginsel waarvolgens advertensies gemaak word! En sosiale media het deesdae ons eie persoonlike bemarkingskanaal geword.

Maar hier’s die ding – iets wat ons almal eintlik in ons harte weet: daardie oomblikke is nie die realiteit nie. Dit is eintlik net – eenvoudig – ‘n paar uitsonderlike sekondes wat die lang, werklike episodes van ons ware lewensdramas aanmekaarstring. Ons doen onsself hoegenaamd geen gunse deur toe te laat dat iemand anders se oomblikke van volmaaktheid – in ons gedagtes – met ons oomblikke van realiteit kompeteer nie.

Die feit van die saak is dat volmaaktheid in elk geval nie eintlik ons doelwit hoef te wees nie. Van my gunsteling herinneringe het al gebeur in daardie oomblikke waar dinge eintlik feestelik geflop het.

En as jy my nie glo nie, kyk wat dink my dogtertjie régtig van ons familiefotonemery …

 

 

Ai. Threenagers

WhatsApp chat