Boelie

2019-04-08T15:58:15+02:00

Na ons ervaring van ons eerste ernstige boelie-situasie, wat my as ma erg omvergegooi en verskriklik bekommer het, bevind ek my nogsteeds met baie vrae in my hart en gemoed.

Toe die situasie van die bende seuntjies wat my graad-een dogtertjie en haar twee maatjies afgeknou, bang gemaak en seer gemaak het, aan die lig gebring is, is hulle onder hande geneem.  Nadat die nodige straf  uitgedeel is en hulle baie streng aangespreek is en opgesplit is, het my kind ware empatie vir die seuntjies gehad wat nou nie meer saam mag speel nie. Ek het geduldig weer verduidelik hoe elke daad, goed en sleg, NAGEVOLGE het.

Die grootste geskenk wat uit die nare paar weke verkry is, is dat my kind en haar maatjies die waarde van hulle stemme ontdek het. My kind straal met die wete dat sy die geleentheid gekry het om haar kant van die storie te vertel en dat daar daadwerklik iets van gekom het. Dat sy gehoor is en hulle weer in vryheid en met vreugde kan speel en kinders wees.

My gedagtes hou aan terug gaan na vrae soos: ‘hoekom het die bende in die eerste plek hulle grense so oorskrei?’

Ek weet ons almal wil grense en reëls toets en kyk waarmee ons kan wegkom, maar wanneer iemand dit duidelik maak dat hulle ongemaklik is en seer kry deur woorde en dade, waarom dan daarmee aanhou tot dit alles inmekaar tuimel?

Ek wil die boelie probeer verstaan en weet waarom hy/sy dink dis ‘okay’ om ander seer te maak.

Dis goed om ons kinders te leer om op te staan en hulle stemme dik te maak en nie op te hou vra vir hulp tot hulle veilig voel nie. Die groot uitdaging is natuurlik om vir ons kinders te leer en vir hul die spasie te gun om ook normaal aan te gaan en hulle eie krisisse te leer hanteer. Hierdie balans is baie moeilik om te vind. Terwyl ons die hele tyd besig is om geregtigheid te wil laat geskied, gooi ons soms die balans uit en begin onwillekeurig oor reageer.

Ek noem dit want in my eie ervaring het ek beleef hoe uber-sensitief ons kan raak en skielik nie die ware realiteit sien nie, ons perspektief beperk as’t ware ons visie van die werklikheid. Ons hou op bevraagteken en maak gevolgtrekkings sonder al die feite en in die proses loop ons gevaar om self boelies te word.

Ek het gesien hoe my kind skielik baie bewus geword het van boelies en die mag wat sy ervaar het was vir haar verwarrend. Normale speelgrond-onderonsies is eensklaps as ‘n boelie-scenario beskryf en mamma se hulp dadelik ingeroep. Dit het my laat besef hoe belangrik dit is om die volle waarheid van wat in elke individuele situasie gebeur te ontsyfer. Dit is baie moeite maar uiteindelik die enigste manier om oplossings in ons diverse wêreld te vind.

Ek dink daar is oorgenoeg voorbeelde van die gevolge van veralgemening en dat sulke oorhoofse aannames net onmin saai. Dis bloot net te gemaklik om op stereotipes staat te maak. Ons kinders se toekoms, vrede en gesondheid in hul verhoudings en vryheid van beweging vra dat ons na hulle kyk as individue en hulle aanmoedig om dieselfde te doen met mekaar.

Miskien het die boelie iewers geleer dis al hoe hy die aandag kry waarna hy smag, of dalk dat om gemeen of brutaal te wees, aanvaarbaar is. Die boelie skree dalk al lank vir aandag of in reaksie en sy/haar laaste uitweg was om iemand te boelie uit frustrasie… ???

Om nie blindelings te blameer en ‘n vinger te wys nie, verg baie, veral as dit iemand na aan jou is – jou eie kind – wat met voorbedagte dade deur iemand seergemaak is. Maar soos my eie kind se meelewendheid my bewus gemaak het van haar boelie se menswees kan ons ook nie bekostig om net weg te kyk of goedsmoeds te straf nie. Mag ons as ouers, as onderwysers – as volwassenes – met oorleg en oorwoënheid vorentoe beweeg en met liefde elke unieke situasie leer hanteer.

Een asemtuig op ‘n slag.

WhatsApp chat