Aangename kennis manlief…

2019-04-08T15:14:24+02:00

Ek en my vriendinne gesels gereeld oor hoe belangrik dit is dat mamma en pappa moet onthou dat hulle eerste man en vrou was.

Dit is so maklik om mekaar in die proses van ouerskap te verloor. Alles draai om die kinders. Kos gee, aantrek, doeke ruil, huiswerk doen, bad, aan die slaap kry – teen die tyd wat jou kinders slaap, is jy doodmoeg met geen energie vir geselsies maak nie, wat nog van ‘n kwaliteit gesprek of aandete saam met jou geliefde.

Jou huwelik draai 100% om jou kinders en selfs in die seldsame alleen tye, bespreek en beplan julle kinderaktiwiteite.

Hoe kan ons, ons huwelike beskerm?? My persoonlike opinie is deur op ‘n daaglikse basis vir jou huwelik en jou lewensmaat te bid, om saam te bid en om ALLEEN kwaliteit tyd saam te bestee. Die so called, “over rated” date night, is dalk net die antwoord. Dit hoef ook nie altyd ‘n lang romantiese aandete te wees wat jou platsak laat nie: ‘n vinnige koffie, glas wyn… Die soort alleen tyd waar julle mekaar in die oë kan kyk en werklik uitvind wat in die ander se lewe aangaan, buite die georganiseerde chaos by die huis. (-;

Ek het ‘n behoefte om weer vir huwelike te begin bid, om vir mense te laat glo in mekaar. Om jou te herinner dat jy en jou man ‘n span is en dat daardie span soveel sterker en meer effektief sal funksioneer as julle mekaar eerste stel en oppas. Moet nooit dat kinders die oorsaak wees vir die verbrokkeling van julle liefde nie. Julle het mekaar immers eerste gekies, voor kinders nog in die prentjie was.

Ek weet dis dalk makliker gesê as gedaan, maar my gebed vandag is dat elkeen julle man opnuut sal kies, sal koester & sal “kus” (haha, ek moes die 3 k’s forseer).

Indien jy dalk ‘n meer praktiese idee het vir kwaliteit tyd en groei saam met jou man, deel dit asseblief in ‘n aanmerking met ons. Kom ons help mekaar om die huwelik weer sterk te maak, ‘n eenheid waarin ons kinders en ander mense kan glo – soos God dit bedoel het!!

 

Baie liefde!!

Mandi

Xxx

WhatsApp chat